ENERGYDRIVE-VRAGMOTOR LEER LEERLINGE OOR HERNUBARE ENERGIE |
August 2018
Die spesiaal ontwerpte EnergyDRIVE-vragmotor het die Noord-Kaap gedurende die laaste gedeelte van sy drie week lange opvoedkundige bewusmakingstoer deur Suid-Afrika bereik. Die vragmotor het reeds by honderde leerlinge in gemeenskappe by windplase regoor die land aangedoen om mense meer oor hernubare energie en klimaatsverandering te leer.
Die Khobab-windkragaanleg, Loeriesfontein-windkragaanleg en Noupoort-windkragaanleg het almal gehelp om hierdie gedeelte van die toer moontlik te maak en ook besoekende leerlinge tydens uitstappies na hierdie windkragaanlegte ontvang sodat hulle meer oor hernubare energie kan leer. Hoërskool Loeriesfontein was die eerste skool waar die EnergyDRIVE-vragmotor gestop het. 20 Leerlinge tussen gr. 10 en gr. 12 het ook die geleentheid gehad om die Loeriesfontein-aanleg te besoek. Die vragmotor sal daarna die Noupoort Gekombineerde Skool besoek.
Die voertuig het sonkragpanele op die dak, ’n biogasverwerkingsmasjien en warmwatertenk. Die EnergyDRIVE voertuig is ontwerp om te demonstreer hoe fotovoltaïese selle sonlig direk in elektrisiteit kan omskakel en leerlinge meer oor die voordele en gebruike van hernubare energie te leer. Teen die tyd wat die vragmotor sy Noord-Kaapse besoek afsluit en na KwaZulu Natal terugkeer sou dit meer as 40 skole regoor die land besoek het.
“Die EnergyDRIVE-vragmotor help ons om gemeenskappe te besoek waar leerlinge dikwels nie toegang tot inligting oor hierdie tegnologieë het nie,” verduidelik Vanessa Fredericks, bestuurder vir ekonomiese ontwikkeling by die Loeriesfontein-windkragaanleg en Khobab-windkragaanleg. “Die vragmotor kan interaktiewe demonstrasies hou wat dit maklik vir leerlinge maak om meer oor die verskillende maniere te leer waarop hernubare energie opgewek kan word.